Taking precepts

Posted February 6, 2010 deur Bertus!
Kategorië Uncategorized

(Hierdie is ‘n 60 sekonde prekie wat ek verlede jaar by my dharma teacher in training precept ceremony gegee het.)

An old Buddhist poem states:

When you sit, sit like a Buddha

When you walk, walk like a Buddha

When you talk, talk like a Buddha

Before long, you will find that when you are, you are like a Buddha

I have sometimes wondered why tulkus, young Tibetan children who get identified as the reincarnation of lamas at an early age, so often do indeed grow up to be wise and gifted meditators and teachers. Apart from any supernatural explanation I have come to believe it is because they are told from an early age that they are lamas – eventually they come to believe it, they start to act like lamas, the world responds to them as lamas, and before they long they turn into real lamas.

I wonder what would happen if we could get all people to believe that they are Buddhas and to act accordingly. 

Taking precepts is a way of trying to convince yourself that you are the Buddha you wish to become. Taking dharma teacher in training precepts is a resolution to talk like dharma teacher, to sit like a dharma teacher and to walk like a dharma teacher until you have convinced yourself that you are indeed a dharma teacher. It is a way of being the change you want to and expect one day to see in the world.

I hereby undertake to strive for a clear mind and meticulous, kind acts; and to be the dharma practitioner I want to become.

Durbanville Damaskus

Posted February 5, 2010 deur Bertus!
Kategorië Uncategorized

Laat verlede jaar, na ‘n weke lange soektog, het me. Jacqui Kadett uiteindelik ‘n plek gevind waar sy en die ander lede van die Kaapstadse tak van die Vriende van die Westerse Boeddhistiese Orde vir hul maandelikse oggend van dreunsang en meditasie byeen kon kom. Dit sou Karuna Karuna wees, ‘n redelik nuwe instelling, genoem na die Sanskrit-woord vir deernis, in die groeiende Weskus-voorstad Parklands, wat nie net ‘n winkel met kristalle en meditasie-CD’s bevat nie, maar ook ‘n “genesingskamer” waar die eienares reiki, sjiatsoe en Indiese kopmasserings doen, en ook jou Tarot-kaarte teen betaling lees.

Omdat Parklands maar die afgelope jaar of drie verrys het op ‘n vlakte anderkant Table View waar daar voorheen net sand en portjacksons was, en omdat die meeste lede van die Vriende van die Westerse Boeddhistiese Orde vrydenkende ouer dames uit suidelike voorstede is, het Jacqui Kadett by die uitnodiging ook aanwysings ingesluit van hoe mens by Parklands en Karuna Karuna uitkom. Sy het die aanwysings begin met die woorde (in Engels): “Neem die R27 uit die stad . . . “. En omdat Jacqui Kadett self in Table View woon, en soos baie inwoners van die omgewing vergeet het dat min mense weet die R27 is die naam van die Weskuspad wat verby Milnerton en Melkbosstrand loop, het sy die pad se naam nie duideliker omskryf nie.

Baie lede van die Vriende van die Westerse Boeddhistiese Orde het hulle gevolglik die Sondagoggend op die N7 en die M5 noordwaarts bevind, en mnr. Solly Le Roux, 64-jarige eienaar van ‘n klerewinkel in Observatory, het selfs met sy Peugeot op die N1 anderkant Kraaifontein gaan draai. Daar het hy besluit om die afdraai na Durbanville te neem, onder die valse indruk dat Durbanville en Table View naby mekaar is, aangesien dit albei van daai dele in die noorde is waarvandaan Afrikaanssprekendes kom wat soms by sy winkel in Observatory inloer.

Benewens die Oosterse klede, Indiese beeldjies en ander Asiese bybehore wat Le Roux (‘n Engelssprekende ondanks sy van) in sy winkel verkoop, het hy ook ‘n intense belangstelling, nee selfs ‘n liefde, vir enigiets wat uit die Ooste kom. Hy was al 12 keer in Thailand, meer kere in Japan en in dele van China waar die mense hom vertel het hy is die eerste wit mens wat hulle nog ooit gesien het. En ondanks die vermanings van die Suid-Afrikaanse regering, menseregtegroepe en reisboeke soos Lonely Planet dat mens nie die militêre diktatuur van Mianmar moet ondersteun nie, was Le Roux al soveel keer in Mianmar se hoofstad, Jangon, dat hy sy weg beter deur dié oerwoudstad se strate kan vind as deur die strate van Durbanville, soos hy dié Sondagoggend uitgevind het.

Hy het hom uiteindelik by daardie deel van Durbanville se sakekern bevind waar Wellingtonstraat en Durbanweg kruis, en pleks daarvan dat hy links gedraai het en dadelik weer regs by die Woolworths (wat hom met ‘n ompad na Table View/Edgemead/ Bothasig sou neem), het hy die fout gemaak om regs te draai en toe by die sirkel weer regs. En nadat hy weer ‘n draai of twee gemaak het, moes ‘n woedende Le Roux, wat toe al met sy vuiste teen die stuurwiel geslaan het en hulpelose trane agter sy oë voel brand het, erken dat hy nie eens meer sal weet hoe om sy pad uit Durbanville uit terug te vind nie.  Moes hy ‘n voetganger om aanwysings vra? Hulle sou hom uitlag omdat hy so ver van sy bestemming is, of hulle sou hom in Afrikaans antwoord wat hy nie verstaan nie.

Dit was al 09:00 en die Vriende van die Westerse Boeddhistiese Orde se byeenkoms het reeds begin, dalk was Jacqui Kadett al klaar met die bekendstelling en het sy begin om hulle in dreunsang voor te gaan. Ag Here, hoekom? het Le Roux volgens sy eie erkenning op daardie oomblik in ‘n tranerige stem gekerm. Hoekom moet dit nou gebeur? Wat is die doel hiervan?

Le Roux, wat Jacqui Kadett na die tyd, soos ses ander lede van die Orde, gebel het om haar op haar swak aanwysings attent te maak, het ook in dié oproep aan haar vertel hy was so buite homself met kommer en vernedering was, so paniekerig en naar, dat hy sy Peugeot op ‘n parkeerterrein staangemaak het wat hy later sou uitvind die parkeerterrein van die NG kerk Durbanville-Bergsig was. Hy het teruggeleun in sy sitplek, sy oë toegemaak en homself gedwing om stadig asem te haal.  “En ek is seker ek moes flou geval of ‘n episode gehad het ,” het hy later (steeds in Engels) aan Jacqui Kadett gesê. “Want ek sou nie in dié toestand aan die slaap geraak het nie.”

Maar sy bewussyn het hy wel verloor, en toe hy weer bykom, het hy nie geweet hoe lank hy uit was nie, hoewel ons nou kan skat dat dit seker nie meer as so vyf minute was nie, want oral op die parkeerterrein rondom hom het motors meteens opgedaag met gesinne en ou mense wat die oggenddiens in die NG kerk Durbanville-Bergsig kom bywoon het. Mense het tussen die motors rondgemaal, mekaar met die hand of wangsoene gegroet en volgens Le Roux het hy aanvanklik nie eens besef hulle is kerkgangers nie, want baie van die mans het nie baadjies of dasse gedra nie, en daar was selfs vroue wat broeke gedra het — en Le Roux se idees oor hoe Afrikaanse kerkgangers aantrek, was effens verouderd.

Hy het onder ‘n effense afdraand geparkeer, en diegene wat dié kerkterrein ken, sal weet dit beteken jy kyk by jou motor se voorruit uit en sien die kerkgebou bokant jou uittroon — een van daardie sonderlinge, abstrakte argitektoniese boustyle wat eie is aan Afrikaanse kerke wat in die tweede helfte van die vorige eeu gebou is.

Mens sit in jou motor onder die afdraand en kyk op na die reuse-, eienaardige kerkgebou wat soos ‘n ruimteskip in die lug bokant jou hang en jy besef die eerste keer jy het uit ‘n sluimering, uit ‘n staat van bewusteloosheid, van slapende vergetelheid ontwaak en iets vreemds en gewyds, iets gans anders, hang in die lug voor jou asof dit jou opwaarts roep, op na ‘n huis waar rus is vir ‘n siel wat vermoeid en verdwaald is op ‘n warm Sondagoggend, ’n heenkome vir iemand wat in die steek gelaat is deur diegene wat aan hom rigting moes aandui, iemand wat kort tevore wou laster en huil en wat nou opgestaar het na die huis van God wat soos ‘n wolkkolom bokant hom hang.

Op dié oomblik het die orrelis binne die kerk begin speel. Jong maagde met Bybels onder hul arms het verby sy motor geloop en vriendelik na Le Roux geglimlag en een het ‘n paar tree verder vas gesteek, omgekyk, weer geglimlag en met haar hand beduie hy moet naderkom. Le Roux het hom met gebare laat beduie tot binne-in die kerk waar hy nie veel van die mense se taal verstaan het nie, en soms, het hy na die tyd vertel, het hy deur die loop van die diens weer sy bewussyn verloor — of dit nou was weens vermoeidheid of ekstase is hy nie seker nie.

Die groep lede van die Vriende van die Westerse Boeddhistiese Orde wat per abuis die M5 geneem het, daarenteen, het op hul beurt darem nie so erg verdwaal dat hulle die oggend van dreunsang en meditasie misgeloop het nie. Hulle het begin besef hulle het die pad byster geraak toe hulle kort anderkant die Caltex-raffinadery by ‘n verkeerslig langs ‘n bekende ontkleedansklub uitgekom het wat as ‘n landmerk in dié omgewing dien. Hulle kon gevolglik vir Jacqui Kadett by Karuna Karuna bel en met ‘n groot gegiggel vertel dat hulle langs die ontkleedansklub is. Jacqui Kadett het beter aanwysings verskaf en kon die verrigtinge na 25 minute onderbreek om die M5-groep te verwelkom. Hulle was betyds daar om ‘n oggend van “kalmte, bedagsaamheid en onderrig in deernis” te beleef, soos wat die uitnodiging die geleentheid beskryf het.

Jacqui Kadett het die giggelende drietal verwelkom. “En weet julle nie waar Solly Le Roux is nie?” het sy volgens ooggetuies gevra. “Hy het gesê hy gaan ook kom. O, Solly! Ek hoop nie ons het hom verloor nie!”

Boeddhistiese Bertus

Posted Januarie 29, 2010 deur Bertus!
Kategorië Uncategorized

“The further shore draws near, becomes real. The craft jolts onto the sand and we step onto solid ground. The land, which had been misty and unsubtantial as a dream, is now fact. And the shore that we left behind, which was so palpable and real, is now only a slender horizontal line, a visual patch, a memory without substance.. . . Indeed, to the traveler who has not only reached the promised shore but who keeps moving into its interior, there comes a time when not only the raft but the river itself drops from view. When such a one turns around to look for the land that has been left behind, what appears? What of that land can appear to one who has crossed a horizon beyond which the river dividing this shore from that shore has vanished? One looks, and there is no other shore. There is no separating river. There is no raft, no ferryman. These things are not a part of the new world.”

Ek was 23 en in Londen toe ek hierdie stukkie in Huston Smith se The World’s Religions gelees het – in die hoofstuk oor Boeddhisme. Dit was êrens in 2000; ek is nie seker oor die datum of selfs die maand nie, buiten dat dit somer was, want ek het die oggend vroeg opgestaan – so vroeg dat daar nog nie eens busse of moltreine was nie – en die son het reeds geskyn. Ek het van my bedsit in Queen’s Park tot by Paddington Station gestap en Edgware Road was doodstil. En op Paddington het ek die blitstrein na Heathrow gekry om my suster te gaan ontmoet, want sy het pas van Suid-Afrika teruggekeer en het hulp nodig gehad met haar bagasie. Op die trein het ek dié stukkie uit Huston Smith se boek gelees.

Ek was destyds bietjie van ‘n religieuse swerwer. Ek het seker so drie jaar vantevore van my evangelistiese geloof afgedwaal ná ‘n lucidum intervallum tydens ‘n aanddiens in die Stellenbosse Studentekerk. In die jaar voordat ek Londen toe is, het ek my tesis oor die Hare Krishnas gedoen en ek was bietjie aan die tob oor baie van die idees wat hulle my gegee het, maar ook goeters uit New Age en ander vorme van Vedanta – goed oor God wat oral is en ook in ons, goed wat ek nie mooi verstaan het nie, maar wat my goed laat voel het. Een van die redes hoekom ek in Londen was, een van vele redes, was om ‘n nuwe tradisie te soek, want ek het gedink ek sou nogal daarvan hou om weer een te hê. In my agterkop was die idee dat ek uiteindelik vanaf Londen sou aanbeweeg na ‘n ander plek – waarskynlik Indië – waar ek die res van my lewe as ‘n monnik of ‘n hermiet sou deurbring.

Die Boeddhisme was ook op my spyskaart van dinge om te verken, maar ek het beplan om dit tot veel later uit te stel, ten minste tot nadat ek met die Hindoeisme klaar was. Die stukkie uit Huston Smith het my egter vroeg daardie vaal Londense oggend op die trein tussen Paddington en Heathrow eienaardig lig laat voel, so asof ek bietjie opstyg terwyl al die spiere in my gesig gelyktydig ontspan. Salige rus, het ek gedink, salige rus.

As ek aan my kennismaking met die Boeddha dink, dan dink ek altyd aan daardie oggend op die trein, want dis eintlik waar dit begin het. Eerder daar as by die dag dat ek by ‘n Boeddhisme-sentrum ingeloop het.

Die eerste plek waar ek ingeloer het om die Boeddhisme te verken, was die North London Buddhist Center in Holloway Road, waar daar meditasieklasse op ‘n Dinsdagaand was, maar ek het my een aand vererg omdat my bene so seer raak terwyl ek kruisbeen sit en niemand my raad daarvoor kon gee nie. Toe ek ‘n nuwe werk in ‘n boekwinkel in die West End gekry het wat my Dinsdagaande besig gehou het, was ek bly om nie weer North London Buddhist Centre toe te hoef te gaan nie.

‘n Paar weke later is ek alleen na die London Buddhist Centre, Londense hoofkwartier van die Friends of the Western Buddhist Order. Die sentrum was in die Buddhist Village in Bethnal Green, tussen ‘n paar Boeddhistiese winkeltjies en deli’s. Dit was in ‘n ou brandweerstasie. Mens kon die trein op die rooi lyn reguit vanaf Tottenham Court Road (omtrent ‘n kilometer van my werkplek af) tot by Bethnal Green vat. Op Woensdagaande het ek sesuur ophou werk, die meditasieklasse het om sewe-uur begin, en ek het dit begin bywoon. Dit was lekkerder. Daar was gewoonlik so 30 mense in die beginnersklas en ‘n vriendelike vrou het dit gelei. Almal het op kussings gesit voor ‘n groot beeld van die mooiste Buddha wat ek nog gesien het – ‘n jong goue man met ‘n vriendelike gesig en swart hare; sy gelaat het amper soos ‘n Griekse Appollos gelyk. Al om die ander week het ons ‘n asemhalingsmeditasie gedoen, en die res van die tyd was dit Meta Bhavana, oftewel Meditation on Loving Kindness, waar jy allerlei mense wat jy ken visualiseer en probeer om hulle lief te kry. Ek het meer van die asemhalingmeditasie gehou, omdat die tweede een effens na breinspoeling gevoel het. Daar was halftyd ‘n pouse en dan kon mens ‘n koppie peperminttee en ‘n Romany Cream kry. Mense het in klein groepies rondgestaan en gons, maar omdat ek niemand geken het nie, het ek in die binnehof gesit waar daar ‘n fonteintjie was en ek na ander mense se geselsies kon luister. Almal het in sagte stadige stemme gepraat, hul gesigte het geblink asof hulle pas uit ‘n stort geklim het. Die klank van die fonteintjie was fraai.

Mens moes twee pond per sessie betaal, maar ek het soms ingesluip sonder om te betaal en dit vir myself probeer regverdig deur te sê Engeland het ons gekoloniseer, hulle skuld ons. Ek het baie goed so probeer regverdig terwyl ek in Londen gebly het.

Na ‘n paar weke was daar ‘n aankondiging dat daar op Donderdagaande (my aand af by die werk) ‘n spesiale klas vir ‘n klein groepie beginners gaan wees genaamd “Introduction to Buddhism”. Dan sou hulle nie net rondsit en mediteer nie, maar ook onderrig word oor die beginsels van Boeddhisme.

Die klas is aangebied deur ‘n vriendelike oudonderwyser met die naam Jayanatha. Dit was ‘n Sanskrit-naam wat hy gekry het toe hy ingelyf is by die skool. Almal wat ingelyf is, het Sanskrit name gehad. Die stigter van die skool se naam van Sangarakshita (ek spel dit nou hier verkeerd), ‘n oudsoldaat wat glo Boeddhisme in die woude van Birma ontdek het en toe die skool in Londen kom stig het, met effense aanpassings vir Westerlinge. Almal het in verhewe stemme van Sangarakshita gepraat en al sy boekies gelees, hy was ‘n held. Later jare het ek uitgevind dat Sangarakshita in ‘n seksskandaal betrokke was toe hy by van sy dissipels geslaap het, maar toe het ek nog niks daarvan geweet nie. Die klas is ook bygewoon deur ‘n cockney genaamd Mick, wat vertel het hy het altyd ware geluk in sosialisme gesoek, maar dit het nie gewerk nie en nou probeer hy Boeddhisme. Daar was ‘n jong Australiese meisie wat gereeld gehuil het. Daar was ‘n Joodse vrou wat vertel het sy het pas deur ‘n groot emosionele trauma gegaan en Judaïsme het haar niks daarmee gehelp nie, nou soek sy ‘n nuwe geloof. Daar was ‘n jong gay ou van Jamaika wat gesê het hy vind die gay kultuur baie oppervlakkig en nou soek hy meer. Twee huisvrouens. ‘n Sielkundige. Ek.

Ons het elke Donderdagaand daar vergader in ‘n klein kamertjie, ons skoene by die deur uitgetrek (ek onthou nog ek was selfbewus omdat my voete effens gestink het) en dan het Jayanatha die aand ingelei met ‘n verduideliking van een of ander Boeddhistiese konsep, waarna ons dit begin bespreek het. Meestal het die gesprek dan verander in ‘n gedeel” waarin ons almal (mense wat regtig niks met mekaar in gemeen gehad het nie) begin het om ons harte oop te maak oor allerlei dinge in ons private lewens. Swaar goeters. Mense het soms gehuil. Party het soms onverklaarbaar kwaad geraak en begin skel. Tissues is uitgehaal. Dikwels het mense hul hande op mekaar se skouers gesit. Ek onthou ek het een aand gesê: “I am here because I no longer like my life.” Dit klink so melodramaties as mens daaraan terugdink, maar dit was nie toe nie.

Saans teen so nege-uur het ons verdaag en dan het ek in die hoofstraat van Bethnal Green afgedwaal. Soms het ek ‘n bus gevat wat nie eens naby my huis draai nie, en net op die boonste verdieping gesit terwyl dit rondry en ek, al meer weemoedig, na die wêreld kyk. Self het ek nooit gehuil nie, dit is nie my styl nie, maar ek het al meer van ‘n knop in my bors begin voel. Al die mense wat ek op die sypaadjies gesien het – die mooies, die lelikes, die oues, die jonges, almal het vir my so geweldig hartseer gelyk.

Ek het in Queen’s Park gewoon saam met ‘n hartseer Italiaanse meisie wat nooit oor haar verlede wou praat nie. Ek het later vir haar moeg geraak en ek wou nie meer huis toe gaan nie. Wanneer ek nie gewerk het nie, het ek in strate rondgedwaal terwyl ek Dead Can Dance op my oorfone luister of in Starbucks gesit en te veel koffie gedrink. Ek was bang vir die verlede en ek was bang vir die toekoms en dit het al meer duidelik begin lyk dat ek nie eendag Indië toe sal gaan om salige rus te vind nie, maar dat ek eerder na Suid-Afrika sou terugkeer, ‘n regte werk sou kry en ‘n gewone mens sou moes raak. Die boekwinkel wou my bevorder tot klerk in die korporatiewe rekeninge-afdeling, maar ek het meer gehou van my huidige werk, wat behels het dat ek die boeke in die rekenaarafdeling elke dag moes alfabetiseer en soms die inligtingtoonbank moes beman. Ek wou nie groot word nie en ek het myself jammer gekry.

Mick, die ontnugterde sosialis, het tydens een Boeddhistiese gesprek met ons gedeel dat sy vrou gestremd is en dat hy haar voltyds versorg. Hy kry ‘n staatstoelae as versorger en hy voel soms skuldig dat sy vrou se teenspoed hom verlos het van werk. Een van die huisvrouens het een aand begin snik en vertel alles wat sy nog ooit gedoen het, was ‘n flop. Nou het sy Boeddhisme aangepak, maar sy kan haarself nie eens so ver kry om elke dag te mediteer nie, sy is bang dit gaan ook ‘n flop wees. Ek onthou die sielkundige (‘n erg irriterende vrou en blykbaar ‘n aspirant fag hag) het elke keer vir die gay Jamaikaan vertel hoe mal sy oor flieks met kaal mans is – “Men getting their kits off, ooh!”

Oor sulke goed het ons gesels.

Een aand het die Australiese meisie in ons groep geweldig begin huil, so woes dat mense haar moes vashou soos sy heen en weer geruk het. Ek kan nie eens onthou waaroor nie. Selfs nadat sy klaar gehuil het, het sy gesit en snik terwyl ons oor die Boeddha en ons lewens praat. Die volgende Saterdag het ek in Camden Town rondgeloop en haar daar op die sypaadjie raakgesien. Sy was saam met vriende. Ek het na haar geroep en toe sy my raaksien, het sy geril en weggeskram – ek vermoed sy wou nie hê haar vriende moet weet wat sy Donderdagaande doen nie, of sy was skaam oor die vorige week se drama. Ek het toe maar net gegroet en weer koers gekry. En weer die res van die dag alleen rondgeflenter.

Ná so drie maande het die groep skielik end gekry. Jayanatha het aan die begin van een ontmoeting aangekondig dit is die laaste een, en pleks van ‘n praatjie het ons die hele twee ure gemediteer. En toe het ons verdaag. Niemand het mekaar se foonnommers of eposadresse gevra nie. Wat sou ons ook tog verder vir mekaar sê? Ek het nog vir so paar meditasieklasse gegaan, maar nie weer die res gesien nie, en toe maar daarmee ook opgehou.

In die boekwinkel waar ek gewerk het, was ek die stil outjie. Die res van die boekverkopers was almal 20something Engelse wat baie oor dwelms en hip hop gesels het, goeters wat ek nie so mooi verstaan het nie. Hulle het my genoem “Bertus the Mild Mannered Bookseller”. Van hulle het regtig gedink ek is heilig, het ek eendag besef, want een meisie genaamd Sally het my sommer uit die bloute “Buddhist Bertus” begin noem sonder dat ek vir enigiemand van my Donderdagstreke vertel het. Ek dink Sally het ‘n crush op my gehad. “Oh, I love Buddhist Bertus” het sy gesê. En toe sy my eendag ‘n sigaret op ‘n personeelpartytjie sien rook, toe het sy gesê: “Oh no, I much prefer Buddhist Bertus.”

Ek moet bieg, ek het ook van hom gehou.

Dis tyd

Posted December 8, 2009 deur Bertus!
Kategorië Uncategorized

Die Boeddha se dissipels het hom een keer gevra, “Meester, is daar ‘n manier om te keer dat ‘n waterdruppel opdroog?”

“Ja,” het die Boeddha geantwoord. “Gooi dit terug in die see.”

Hierdie is die reis huis toe.


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.